Baie welkom aan al ons ouers en leerders en ‘n spesiale woord van welkom aan al die nuwe leerders en hul ouers.
In hierdie skrywe het ek besef hoe vinnig en gemaklik ek van “ons” dorp praat. As die pas aangestelde hoof is my “ons” eintlik nog baie vars.
Maar in hierdie skrywe dink ek aan “ons” pragtige dorp in die hartjie van die Boland. Aan die asemrowende natuurskoon teen die Jonkershoek berghange en “ons” wêreldklas geriewe. Wat vir my uitstaan, is die netjies versorgde skoolterrein, die oop ruimtes en die holistiese ontwikkeling van elke kind. Ek ervaar ‘n strewe om die perfekte balans te vind tussen akademie, sport en kultuur en om in harmonie met mekaar saam te leef.
Ek is opgewonde oor “ons” unieke soort “plattelandse” leefstyl en hoe Stellies waardes uitgeleef word. Maar ek wil teruggaan na die “ons”. Dit is ‘n veelseggende woord wat ons, sonder om twee keer te dink, in ons praat en skryf gebruik. Dit het egter vir my nuwe betekenis gekry vandat ek aangestel is as hoof van Laerskool Stellenbosch.
“Ons” beteken ‘n saam-wees, ‘n een-wees en ‘n gevoel van bymekaar wees. Dit beteken dieselfde dinge is vir ons belangrik en vir dieselfde dinge sal ons saamstaan. Dit beteken ‘n erkenning aan mekaar en ‘n respek vir mekaar. “Ons” kan saam lag, maar ook saam huil. Ons kan saam kuier en ook saam bou. Dit beteken ons het karakter en tradisies waar vennootskappe en ‘n strewe na uitnemendheid vir ons belangrik is.
Die belangrikste is egter dat “ons” ‘n diep gewortelde liefde vir ons land en ons mense het. Dat die voorreg om in Stellenbosch te bly, ons aanspoor tot betrokkenheid en dat Stellie wees gaan oor balans, goeie maniere en lekker lag.
Welkom by “Ons.”