Ons Skoolhoof

Laerskool Stellenbosch het nog altyd, van sy geboorte in 1969 af, die gees van ‘n avonturier en ‘n pionier in homself gehad, danksy sy hoofde, personeel en leerders oor die jare heen.  Ons is bevoorreg om tans agter die stuur ‘n skoolhoof van die kaliber van mnr Hawkie de Villiers te hê – visionêre avonturier en pionier per excellence. 

Die visie en innoverende leierskap wat hy openbaar, kan tasbaar gesien word in die uitstekende fasiliteite wat oor die afgelope aantal jaar onder sy leiding en versiendheid ontwikkel is.  Meer nog kan dit gesien word in die gelukkige personeel en leerders van ons skool.  Hy het die besondere vermoë om entoesiasme aan te steek en potensiaal te ontgin, waarmee hy ‘n skool lei wat konstruktief geposisioneer is vir die toekoms en leerders aflewer wat positief is en waarde toevoeg tot ons samelewing. 

“In ‘n dorp soos Stellenbosch is akademiese ingesteldheid ‘n prioriteit.  Dit is belangrik dat onderwysers juis dit as ‘n uitdaging sien en nie as ‘n bedreiging nie.  Dit leerders moet toegerus word vir die veranderende kennisgedrewe wêreld waarin ons leef, maar dit moet nooit ‘n alles oorheersende doelwit van ons skool wees nie.

Juis omdat die onderwys vir my ‘n roeping is, is die opvoeding van leerders baie meer omvattend as net die akademie.  Die primêre doelwit van ons werk is dat die kinders ‘n goeie selfbeeld bou.  Ons moet eenvoudig daarin slaag om geleenthede te skep sodat kinders selfvertroue ervaar en regtig goed voel oor hulself.

Bogenoemde waarborg gelukkige kinders wat presteer en volgens hulle eie vermoëns funksioneer.  Belangrike vennote om dit te bereik, is ons ouers.  Ouers moet dieselfde waardes as die skool deel en poog om dit elke dag vas te lê deur die voorbeeld wat gestel word.

Elke kind in die skool speel ‘n belangrike rol om te verseker dat Laerskool Stellenbosch ‘n suksesvolle skool is…’n skool waar kinders toegerus word om in enige hoërskool, van hulle keuse, gelukkig en selfvervuld te wees!

Hawkie de Villiers, Junie 2010

Laerskool Stellenbosch is voorwaar trots op ‘n skoolhoof wat bemind is by leerders en gerespekteer word deur die personeel en ouers.