Bybelvasvrae

Die Bybelvasvrae is ’n opwindende kampioenskap waaraan leerders jaarliks deelneem. Hierdie landwye kompetisie word deur die Rapportryer-beweging aangebied en strek oor drie rondtes. Elke rondte handel oor verskillende hoofstukke uit die Ou en Nuwe Testament van die Bybel.

Die Graad 5-leerders neem aan die junior kategorie deel, terwyl die Graad -6 en 7-leerders betrokke is by die senior afdeling. Elke span bestaan uit vier leerders. Hierdie leerders word onderrig en ondersteun deur ’n span ouers en onderwysers.

Vraestelle bestaan uit meervoudige keusevrae, blokkiesraaisels, woordbou en ander prettige afdelings en word deur teoloë wat deur die Bybelvasvrae-komitee aangewys word, opgestel.

Na die tweede rondte dring slegs die top 10-spanne in die land deur na die finale rondte.

Dit is ’n voorreg dat ons leerders op só ‘n manier aan die Woord blootgestel word.